SANTIE GOUWS

Professional Mountain Walking Guide

Reg. Nr. WC 13274


BY DIE GEBOORTE VAN HURIǂOAXA 

June 2023 /Santie Gouws

Table Mountain, King Proteas, Cape Town, South Africa



Een sonskynmiddag

driehonderd miljoen jaar gelede

beur 'n massiewe klipplaat

stadig,

onder onaardse kragte,

bo die waters uit.


Sopnat -

skitterend in 'n sproei van reënboë soos water orals van klip af spat -

haarself eers behoorlik uitgeskud.

Daarna onserimonieel op die voetpunt van Afrika neer gaan sit.


Die magiese geboorte van ver aanskou,

dadelik hul beste juwele -

bokkies, paddatjies, blomme en kruie;

die fynste fynbossies, orgidiëe, irisse, vlinders en rietjies;

mooi slange, ook arende -

as sierraad en offer aangedra.


'n Dapper een bring 'n rooikat saam.

Die wyse - buchu, varings en silwerblaarbome.

'n Dromer roep suikerbekkie, mier en koggelmander nader.

Die kinders - sewejaartjies, naaldekoker en sonnedou.


Proteus, vol ontsag vir die verrysende wonder,

swig tot 'n oomblik van waarheid,

sprinkel haar blad

met 'n rykdom van krone.




Voetnota

HURIǂOAXA is die naam wat die KhoeKhoe aan Tafelberg gegee het, en beteken 'uit die see verskyn'

PROTEUS, in Griekse mitologie, is die seun van Poseidon, 'n see-god wat in die toekoms kan sien, maar verklaar dit eers wanneer hy vasgedruk of gevang word. Die Protea plant-familie is na Proteus vernoem.


*****************

Have you heard the mountains calling? WHATSAPP Santie today to start planning your personalized PRIVATE GUIDED HIKING EXPERIENCE!