SANTIE GOUWS

Professional Mountain Walking Guide

Reg. Nr. WC 13274


EEN-VROU AVONTUUR

31 December 2019 /Santie Gouws

Reunion Island



Saint Philippe, Reunion Eiland – 31 Desember 2019

 

Ek is drie dae gelede so halfnege die oggend in pragtige sonskyn by Piton de la Fournaise [die tweede hoogste vulkaniese berg op die eiland] in die suidooste van Réunion weg. My mikpunt – Cap Blanc – was halfpad teen die berg af met bome en ’n bergstroom wat my inwag. Hier sou ek twee nagte kampeer voor ek die laaste 14 km na die suidkus van die eiland aanpak. By die Coco Vanille-gastehuis in Le Beryl was daar die belofte van ’n sagte bed op my eerste aand terug in die beskawing. 


My roete neem my oor die Plaine des Sables, ’n uitgestrekte kraterbodem, 2 250 m bo seevlak. Ná twee uur se stap oor skerp, swart vulkaniese klippe daal ek amper vertikaal af in ’n ou vulkaniese bekken . . . sowat 2 000 m bo seevlak. Gestolde lawa vorm die wande, en wolke borrel van onder af in. Ek vat ’n ruskans, eet iets, en volg die paadjie bo-oor die bewolkte rand. Voor my maak die Langevin-ravyn oop. Ek stap weereens teen ’n amper vertikale wand af, groen en ruig. Eers inheemse struike, boomvarings, en dan woud hoe dieper ek daal. Teen die hange maak watervalle hier en daar wit vertikale strepe, en onder in die verte is ’n dorpie midde-in die groenigheid. Die skaal is duiselingwekkend. My pas is baie stadig. 


Vyfuur die middag beur ek uit die woud uit in ’n plat, oop oase in. ’n Bergstroom kabbel oor die klippe en daar is kampplekke onder die bome. ’n Bord lees “Cap Blanc 700 m. Parking 30 min.” Die dorpie Grand Galet is een uur van daar. Ek kies ’n plek by die rivier vir my tent, swem lekker, maak aandete en raak knus vir die volgende twee dae. Deur die nag begin dit saggies reën. Die volgende oggend reën dit steeds, maar dit pla my min. Ek slaap, kyk vir die rivier en droom van Coco Vanille. Dit reën harder en later die middag sien ek die rivier se vlak het effens gestyg. My gedagtes gaan terug na die vorige dag. Ek besef as dit aanhou reën, sal hier ’n aansienlike hoeveelheid water verbykom. Ek skuif die sopnat tent hoër op en begin aandete maak. Nou begin dit sous. Halfpad deur aandete tref dit my: Ek is aan die verkeerde kant van die rivier! Ek pak blitsvinnig die tent op en dink: Kom net oor die rivier, slaap by die parkeerarea, môre stap jy uit. Dink Coco Vanille.


Die vloei is sterkerig, maar ek maak dit. Dis omtrent sewe uur die aand en begin al effens donker raak, so ek skakel my kopliggie aan. Hou moed, die parkeerarea is nie ver nie, sê ek vir myself. Die paadjie gaan effens opdraand verby ’n klein hoogtetjie wat “uitkyk" oor die dreunende rivier ’n paar meter ondertoe. Ek hou verby, begin geleidelik bewus word van nog ’n gedruis aan my linkerkant. Omtrent halfagt daardie aand tref ek die tweede bruisende stroom! My f*k, Marelize. Dis donker. Dit druis. Néé! Ek gaan nie in die donkerte hier oorneuk nie. Parkeerarea of te not. Terug na die uitkykpunt. Ek slaan wéér die nat tent op in die reën. 


Die volgende dag sous dit steeds. In my sopnat reënjas gaan besigtig ek die rivier. Dis eintlik net ’n oorvol bergstroom, maar 10 m stroomaf is ’n waterval, en die risiko is te groot. Een glip van die voet en dis totsiens, Santie. Terug tent toe. Dis elfuur die oggend op 30 Desember. Ek het die selfoonsein by Cap Blanc getoets, maar daar was niks. My power bank [kragbank] het my selfoonbattery ontlaai, pleks van herlaai, en die krag is op 26%. Ek toets weer die sein, tik ’n SMS aan ’n gastehuis op Hell-Bourg in Cirque de Salazie [’n kommune min of meer in die middel van die eiland] waar ek vantevore was en vra dat hulle die nooddienste kontak. Ek reken dit sal hulle hoogstens drie uur neem tot by die parkeerarea, dan kan hulle vir my ’n tou oor die stroom gooi, sjoeps-sjaps. ’n Bietjie opwinding vir die dag, en vanaand: Coco Vanille! 


No such luck. Die SMS gaan nie deur nie. 16% krag. Die mobiele data wys een strepie. 


Ek tik vir Coco Vanille ’n e-pos – sal húlle asseblief die belle bel en dan sjoeps-sjaps . . . E-pos gaan nie deur nie. 6%. Die sein flikker. Dit reën onophoudelik.


Twaalfuur. Skielik kom ’n paar whatsapps deur! Laat ek gou een stuur . . . eeny, meeny, miny, moe . . . een kans . . . 'n vriend Mark van Kaapstad wat oor ’n paar dae hierheen sou kom, het ’n vriendin op Réunion . . . dalk kan sý die belle bel . . .


My vingers is klam. Ek tik verkeerd. 1%! Uiteindelik spel ek kort en kragtig die probleem en my ligging uit en vra om hulp. Ek druk “send”, maar die boodskap hang. Neeeeeeee . . . Dan, eindelik, twee blou regmerkies, die foon snik sy laaste snak. Hy’s deur! Ek knip ’n traan weg. Dit sous steeds. Onder my

kan ek hoor hoe die waterval van die regterkantste stroom al hoe harder druis.


Die minute sleep verby. Vieruur die middag kom en gaan. Teen vyfuur daal die ontnugtering soos ’n yskoue laken op my neer: Hulle gaan nie kom nie. Mark het my boodskap geïgnoreer. Nóg ’n tipiese mansmens wat nie ’n vrou kan hoor nie. Moes ek nou ’n spul traangesiggies bygesit het!? Ek ken Mark nou seker twee maande. Deur Tinder ontmoet, oulik. Ons is nog skaars vriende, maar ek het deurentyd vir hom WhatsApp-kiekies gestuur van my staptog deur Réunion. Ek

verwag dalk te veel, maar die teleurstelling is groot. Dis nou die laaste strooi met dekselse mans! En weg vlieg Coco Vanille . . . 


Ek probeer kalmeer. Dit ís wat dit is. Dis deur my eie toedoen dat ek nou hier vassit. Ek gaan moet wag totdat die riviervlak daal, dis nou maar al. Ek het

drie maaltye oor en hier is báie water. Ek is droog en snoesig. Dis nie doodsake nie, net ’n bietjie ongerieflik. Ek voel sleg dat my ma en broer oor my gaan bekommerd wees, maar eerder dit en ek kom lewend hier uit, as wat ek nou in ’n bruisende waterval 14 km ver see toe spoel. Terug vulkaan toe kan ek ook

nie, want daardie eerste rivier is nou ook in vloed. 


Dit was aand en dit was môre – 31 Desember. Ek word vroeg wakker. Dit reën nou al twee dae onophoudelik. Ek ken elke spikkel aan die binnekant van my tentjie. Hoe lank voor my ma-hulle my kan opspoor? Ek het by die vulkaan in ’n whatsapp laat weet ek maak weer kontak by die kus, geen details . . . mos eiesinnig . . . Al een wat weet waar ek is, is Mark. Ek weier om verder daaroor te tob, ek is klaar met mansmense! Ek maak koffie en spaar my ontbyt vir later. 


Ek het drie stelle klere. Die eerste is steeds sopnat. Die tweede stel (droë) klere hou ek vir die uitstap. Die derde, ’n dun pienkerige katoenrokkie vir die tye sonder rugsak, is waarin ek nou in my tent my lot sit en bepeins. (Vergeet nie die swembroek en nat reënjas van die afgelope twee dae se “buite” werk nie.) Teen tienuur is die gedrup stiller, ek hoor voëltjies. Dit motreën nog, maar ek peul in die rokkie uit die tent en gaan bekyk die riviervlak, beslis ’n titsel laer. Miskien gaan ek tog nie 40 dae en 40 nagte hier vassit sonder kos nie!


Skaars terug by die tent hoor ek ’n helikopter. Seker op pad vulkaan toe met toeriste. Ek gee nie om nie, hardloop al soekend na die klank, dit ráás. TJOKKO-TJAPPA-TJOKKOTJAPPA. Dan gewaar ek hom. Dis ’n reddingshelikopter! – omtrent 10 m bokant die bome. Ek spring op en af en skree en waai wild met my arms soos in die flieks. Hy’t mý kom háál! 


Jou kleingelowige vroumens . . . daar’s net één manier hoe hulle nóú hiér kan wees . . . Mark. Ek kry skoon skaam en trek summier alle wraakgedagtes teen mansmense uit die aurora uit terug. 


Die volgende sekonde doem ’n Fransman met ’n valhelm op sy kop – soos uit die Franse Vreemdelingelegioen – voor my op. Ek skrik eers, maar besef toe hy’t mý inderdaad kom háál! Ek omhels instinktief die arme ou, knip ’n traan weg. Hy vra of ek Frans praat. Nee. In Engels: Maak gou. Trek aan jou skoene. Vat net jou paspoort. Los die tent. Skoene. Min brandstof. Ek sê toe nee, die tent is gou, en tussen veters vasmaak, tent afslaan, jaag, gryp en pak is ons die volgende oomblik op die voetpad met die helikopter al tjoppende tjappende reg bo ons in ’n oopte tussen die bome en met ’n tou wat onderaan swaai. Dit is te steil om te land. Vreemde Franse Legioen gryp die tou en daar gaan al my aardse besittings die lug in op. Prop my in ’n harnas, met stewels aan en veters vas en valhelm op my kop. Hy gryp die tou en klik my daaraan vas, ook homself en wys óp! 


Daar gáát ons! Op en op en op en skielik is dit tjoepstil en ons sweef kalm bo-oor hierdie ongelooflik groen majestieuse ravyn met watervalle orals om. En hy vra, are you OKAY??!, en ek wys JA, ek is soveel meer as OK! Soveel, soveel meer.


Op en op hys die tou ons die helikopter in, hulle gespe my in en daar vlieg ons oor dit alles na waar... na die parkeerarea! So vinnig soos hulle gekom het, so blitsig is hulle weer weg. My in my pienk rok en stapstewels afgelaai waar twee vriendelike reddingswerkers in ’n voertuig my ingewag het. Vir my soet kruietee gegee en my al die pad kus toe geneem tot by die Dan ’n Tan Lotan-gastehuis, waar ek vir die volgende twee aande bespreek het. Langs die pad gestop en lietsjies gepluk en in die kar geëet.


Wat ’n belewenis.


Die parallelle drama wat oorkant die oseaan afgespeel het, was een van Mark wat omtrent berge versit het om deur facebook en op welke ander manier by talle van my vriende, my ma en broer uit te kom. Die Réunion PGHM – die Peloton de Gendarmerie de Haute Montagne of reddingsgroep vir vasgekeerdes in die berge – benodig familietoestemming voor hulle enigiemand met ’n helikopter red. My broer, Jerry, Mark en talle ander het omtrent almal in die heelal gebel en omtrent die aardbol uit sy wentelbaan geskuif om my uit daardie berg te kry. Mark se vriendin Anne, wat op Réunion woon, het eerstens die polisie daar gebel, hulle die brandweer en hulle op húl beurt die reddingspan. Op my Coco Vanille-aand het die span iemand te voet ingestuur, wat toe ook nie deur die rivier kon kom nie. Dit was die stertpunt van ’n tipiese Indiese Oseaan-sikloon wat die eiland getref het.

Daar was te veel wolke om te vlieg en hulle het geweet ek is veilig in my tentjie . . . toe dit die volgende oggend opklaar, toe is hulle daar...danksy twee “mansmense” en nog ’n klomp ander ongelooflike mense en vriende wat uit hul pad gegaan het omdat hulle vir my omgee. 


So dit was dan 2019. Soos my gunsteling Psalm 18 sê: “I stood there saved, surprised to be loved.”


* Santie se avontuur was die laaste drie dae van ’n staptoer op die Franse eiland Réunion in die Indiese Oseaan wat sy op haar eie met ’n rugsak aangepak het. Sy het van noord na suid gestap, altesame 117 km oor 10 dae met ’n rusdag

in die middel. Sy het 6 942 m geklim en 7 840 m gedaal.


* Santie's article was also published in the Sarie Magazine in May 2020, and the Journal of the Mountain Club of South Africa, 2021

Have you heard the mountains calling? WHATSAPP Santie today to start planning your personalized PRIVATE GUIDED HIKING EXPERIENCE!